Die onderliggende beginsels ten opsigte van die proses van punteaanpassing/standaardisering na afloop van die Nasionale Senior Sertifikaat(NSS) eksamen

Daar is jaarliks groot spekulasie en soms kwaadwillige gerugte dat die Departement van Onderwys op lukrake wyse die eksamenpunte van Graad 12 eksamenkandidate aanpas en soms ook blokaanpassings na willekeur ten opsigte van bepaalde vakke doen. Sodanige gerugte en spekulasies ondermyn die geloofwaardigheid van die Nasionale Senior Sertifikaat (NSS) en kraak die bewese prestasie van die Graad 12 leerders af. Dit is wel waar dat standaardisering of te wel wetenskaplik berekende punteaanpassings jaarliks plaasvind na afloop van die NSS maar wel onder die wakende oog van Umalusi (die akkrediteringsliggaam in Suid-Afrika). Hierdie proses vind nie net plaas ten opsigte van die NSS-eksamen onder die gesag van die Department van Basiese Onderwys nie, maar ook ten opsigte van die NSS-eksamens wat onder gesag van die SA Komprehensiewe Assesseringsintituut (SAKAI) en die Independent Examinations Board (IEB) afgeneem word.
Standaardisering/punteaanpassing as assesseringspraktyk is nie uniek aan Suid-Afrika nie. Dit is ‘n internasionaal aanvaarbare proses en vind in elke land plaas onder die beheer en bestuur van die onderskeie eksamineringsliggame. Die aanvangspunt is dat ‘n norm vir elke vak bepaal word na aanleiding van die vorige 5 jaar se uitslae. Vir elke jaar word daar ook ‘n gemiddeld bepaal sowel as die middelste punt (mediaan). Die aantal onderskeidings en druipelinge in die vak word ook in ag geneem. Die vorige uitslae, roupunte en norm word in ‘n grafiek aangedui. Die huidige jaar se punte word vergelyk met vorige jare en uitvalle word bepaal. Die onderliggende benadering is dat ‘n bepaalde jaargroep se punte nie drasties van die norm behoort af te wyk nie. Die doel is om te verseker dat die geloofwaardigheid van die eksamen se vergelykbaarheid van jaar tot jaar konsekwent is en te verseker dat ‘n bepaalde jaargroep nie bevoordeel of benadeel word as gevolg van die inhoud of standaard van ‘n vraestel nie.
Die standaardiseringsproses is primêr rekenaargedrewe en neem as beginpunt die roupunt (uitgemerkte punt), asook die verspreidingskurwe van die punte op ‘n grafiek. Daar word gepoog om dit dan so na as moontlik te vergelyk met die 5 jaar norm. Alle kandidate sal nie noodwendig dieselfde punte bykry of verloor nie omdat die aanpassing gedoen word op grond van waar die verskil lê ten opsigte van die mediaan en die norm. Dit kan dus beteken dat sommige kandidate selfs punte kan verloor afhangende van die grafiekvergelyking met die norm. Indien aanpassings plaasvind mag dit nie die rangorde van leerders volgens die roupunt beïnvloed nie. In gevalle waar ‘n blokaanpassing gedoen word sal alle kandidate se punte gelykwaardig aangepas word na oorweging van die 5 jaar norm. Dit is egter hoogs uitsonderlik en vind slegs na deeglike oorweging van alle relevante faktore plaas.
Umalusi aanvaar nie noodwendig dat ‘n aanpassing gedoen mag word wanneer daar ‘n verskil is in die spesifieke roupunt en die norm is nie. Indien die huidige roupunt vir ‘n bepaalde vak verskil van die norm, moet die Departement van Basiese Onderwys (DBO) dan onderwyskundige redes verskaf waarom die vak se punte opwaarts of selfs afwaarts aangepas moet word. ‘n Uiters belangrike oorweging sal wees dat die moeilikheidsgraad van die vraestel met dié van die vorige 5 jaar op wetenskaplike wyse vergelyk en geanaliseer word. Dit mag byvoorbeeld wees dat daar ‘n probleem was met die vraestel, bv.‘n vraag was so gestel dat kandidate dit misverstaan het. Umalusi is uiters streng oor hierdie prosesse en maak dubbel en dwars seker dat objektiewe en grondige redes bestaan. Eers dan word ‘n moontlike aanpassing / standaardisering oorweeg. Die oogmerk bly deurgaans om te hou by die roupunt (uitgemerkte eksamenpunt).
Die standaardisering vind ook net per vak plaas en nie om al die punte van al die vakke as ‘n algemene verstelling aan te pas nie. Na oorweging van die roupunt, afhangende van die vak, word die praktiese punte in berekening gebring by praktiese vakke asook mondelinge punte in die geval van tale, en vir al die ander vakke, die jaarpunte (SGA-punte, dws Skoolgebaseerde Assessering). Dit is dus baie moeilik om die algemene slaagsyfer te manipuleer.
Met betrekking tot die vergelykbare standaard van die onderskeie vraestelle is dit belangrik om kennis te neem dat elke vraestel deur ‘n paneel van eksaminators opgestel word. Slegs die mees ervare en kundige vakonderwysers word na indiening van aansoeke as eksaminators oorweeg. Nadat die vraestelle opgestel is word dit ook gemodereer deur ‘n interne moderator asook ‘n eksterne moderator. Die eksterne moderator word aangestel deur Umalusi en moontlike kandidate kan onderwysers, vakadviseurs of dosente van universiteite wees. Diesulke kandidate moet ook aansoek doen vir die pos. Vir elke vak word 3 vraestelle opgestel. Die DBO besluit lukraak watter vraestel gebruik word vir die November-, die aanvullende - of Junie eksamen in die daaropvolgende jaar. Bloom se taksonomie word gebruik om te verseker dat daar ‘n billike en geloofwaardige verspreiding van vrae is in terme van moeilikheidsgraad volgens die voorskrifte van die Kurrikulum Assesseringsbeleidsverklaring(CAPS) vir elke vak. Suid-Afrika se vraestelle word ook voorgelê aan ‘Cambridge International Exams’ en die ‘Kenyan Examination Council’ ten einde te verseker dat dit vergelykbaar en geloofwaardig is in terme van internasionale standaarde.
by SAOU 12 February 2025
NN 08/2025: Na afloop van die werkgewer se finale aanbod wat op 30 Januarie 2025 op die tafel geplaas is, is georganiseerde arbeid versoek om ‘n mandaat van lede in te win om te sien of die salaris ooreenkoms onderteken kan word...
by Regsdienste 11 February 2025
NN 07/2025: Digital literacy is one of the aspects that should be taught to learners and cannot be limited to a single subject. However, in recent years social media have also become an important tool for organisations and institutions to offer new opportunities for online communication, engagement, as well as the fast and easy digital sharing of information...
by SAOU 6 February 2025
NN 06/2025: Die werkgewer het op 28 Januarie 2025 ‘n finale getekende aanbod op die tafel geplaas vir die oorweging van georganiseerde arbeid. Dit is die finalisering van ‘n drie jaar salaris ooreenkoms wat begin in 2025 en...
More posts
Share by: