Het jy al opgelet hoedat mense die woord bottel gebruik om eintlik na die inhoud van die bottel te verwys, soos in Die baba drink sy bottel; of hoe oog vir detail gebruik word in plaas van fyn aanvoeling vir detail, soos in Sy het ’n oog vir detail?
Wanneer jy woorde só vervang, skep jy skakels tussen dinge rondom jou: tussen die bottel en die inhoud daarvan, of tussen die vermoë om fyn detail te identifiseer en die deel van die mens, die oog, wat die fyn detail waarneem. Hierdie skakels word deur hulle taalgebruik gereflekteer. Jy wys hierdeur vir ander mense hóé jy sin maak van die konsepte rondom jou.
Jy gebruik met ander woorde elke dag metonimie, want jy gebruik die naam van een entiteit om te verwys na ’n ander entiteit wat daarmee verband hou (Lakoff & Johnson 1980:35). Anders gestel: Jy benoem ’n sekere saak of entiteit nie direk nie, maar indirek (Nordquist 2018).
Dit is iets wat geensins nuut is nie. Volgens die Online Etymology Dictionary dateer die term metonimie so ver terug as die 1560’s waar dit aan die Franse métonymie” ontleen word, wat weer teruggevoer word na Laat Latynse “metonymia” vanaf die Griekse “metōnumia” (μετωνυμίᾱ). Laasgenoemde bestaan uit meta” (met die betekenis ‘verander’) en “onuma” (met die betekenis ‘naam’). Dié term beteken dus ‘verandering van naam’. En is dit nie presies wat ’n mens doen nie? Dit maak sin dat Lawrence et al. (2013) in Afrikaansmetodiek deur ’n nuwe bril die sinoniem oornoeming voorstel.
Op skoolvlak word metonimie met die ontleding van letterkundige tekste geassosieer. Dit word beskou as ’n soort stylfiguur wat ’n bepaalde beeld oproep (vergelyk byvoorbeeld Platinum Afrikaans Huistaal Graad 12 Leerderboek van Vosloo et al. 2013).i Een van die eerste voorbeelde van metonimie in skryfwerk waaraan ek kan dink, is sekerlik die gebruik van Kroon om na die keiser te verwys in die drama Die keiser: HOFNAR: Loop sommer broek oor die skouer en skoene in die hand, my Kroon. Kry glo te warm. Hierdie gebruik van metonimie is effektief, want konings (en keisers) dra krone, en hierdie beeld word juis opgeroep.
(Die idee vir die beeld is ontleen aan Betts 2021, en die beeld is m.b.v. Canva gegenereer.)
Soos reeds met my voorbeeld uit Die Keiser aangetoon is, word metonimie onder andere aangewend om ’n bepaalde beeld op te roep. Dit stel skrywers in staat kreatiewer met taal om te gaan (MasterClass 2021).
Die gebruik van metonimie kan woorde ook kragtiger maak. Volgens MasterClass (2021) verhoog die gebruik van metonimie die kompleksiteit van selfs die eenvoudigste woorde, omdat hulle ’n simboliese waarde kry. Dink maar aan die immer gewilde voorbeeld Die pen is magtiger as die swaard. Twee voorbeelde van metonimie kom hierin voor, naamlik die pen en die swaard. Hierdie twee sinsdele staan in vir die geskrewe woord en militêre mag, en verkry hierdeur ’n simboliese betekenis.
Uit dieselfde voorbeeld kan ons aflei dat die gebruik van metonimie bydra tot bondiger taalgebruik (vergelyk Yamasaki 2023). Dink ook aan die volgende aanhaling uit Elisabeth Eybers se gedig “Twee kleuters in ’n vondelpark:
Van skopfiets tot trapfiets gepromoveer,
bromfiets tot motor, sal hy konstateer
– die wiel sy ordeteken – dat hy lid
is van die kollektiewe Lilliput.
Eybers verduidelik hoe die seuntjie ontaard in ’n jong man wie se status bepaal word deur die tipe motor waarmee hy ry. In plaas daarvan om te skryf “hy word deel van die kleinlikes in die samelewing”, gebruik sy die korter sinsdeel, die metoniem, die kollektiewe Lilliput wat verwys na die fiktiewe eiland in die roman Gulliver’s Travels van Jonathan Swift wat bewoon is deur piepklein mensies. Hoewel hier dus sprake is van mense wat letterlik klein is, gebruik sy die verwysing hierna op ’n figuurlike wyse (vergelyk LiteraryDevices 2013).
Nordquist (2018) dui ook daarop dat metonimie kohesie en samehang bevorder. Daar word saam na twee verbandhoudende konsepte (soos pen en die geskrewe woord) verwys deur middel van een woord – die bevordering van kohesie word hierdeur geïllustreer. Gevolglik hoef ’n mens nie tussen hierdie twee konsepte te beweeg nie – die bevordering van samehang word hierdeur geïllustreer.
Wanneer ’n plan uitgedink moet word, is ’n mens geneig om te sê Ons moet koppe bymekaarsit. As ek iemand dit hoor sê, dink ek regtig nie aan ’n toneel uit The Addams Family waar ’n klomp koppe rondom ’n tafel sit en oor ’n saak redeneer nie! Ek begryp onmiddellik dat ’n klomp mense moet help saamdink en dat die woord kop (’n deel) gebruik word om na mense (’n geheel) te verwys. Ek begryp ook die kop bevat die brein, wat sterk met die beraming van planne geassosieer word en dat dit die rede is waarom kop in so ’n uitdrukking gebruik word.
Ons het hier te doen met ’n stylfiguur waar ’n woord wat op ’n deel van iets dui, gebruik word om te verwys na ’n groter geheel; of ’n woord wat op ’n geheel dui, gebruik word om te verwys na ’n deel van iets (Merriam-Webster; Nordquist 2018). Sinekdogee is hier ter sprake, hoewel die term gedeeltelike benoeming ook gebruik word (vergelyk Lawrence et al. 2013). Nóg twee voorbeelde van sinekdogee is:
Omdat sinekdogee, net soos metonimie, ’n leksikale item binne ’n bepaalde domein gebruik om na ’n ander entiteit binne dieselfde domein te verwys, is die tendens om sinekdogee as ’n onderafdeling van metonimie te ag. Johnson en Lakoff (1980:36) ag sinekdogee as ’n spesiale kategorie van metonimie. Dit is ook ’n siening wat in sommige skoolhandboeke gereflekteer word. Met ander woorde, hoewel sinekdogee tereg as ’n afsonderlike literêre verskynsel in onderwysbronne hanteer word, is dit wel ’n manier om metonimie te bewerkstellig.
Die vraag is waarom ’n mens sinekdogee gebruik. In ’n voorbeeld soos om iemand se hart te wen (uit Piekfyn Afrikaans Huistaal Leerderboek Graad 9) word hart, as ’n deel van ’n mens, juis gebruik om die betekenisvolle, emosionele konneksie tussen die skrywer en die ander persoon aan te dui. Die frase wil dus ’n bepaalde assosiasie oproep. Die skrywer soek veel meer as ’n fisieke konneksie.
Daarby kan sinekdogee iets simboliseer. Die gebruik van hart in hierdie betrokke voorbeeld simboliseer dat wanneer jy iemand se hart wen, jy hulle liefde en vertroue wen, asook hulle oortuig om hulle tot die verhouding te verbind.
Veral wanneer sinekdogee op ’n deel van ’n groter geheel dui, kan hierdie deel wat uitgelig word, ’n beklemtoningsfunksie hê. In Die soldaat het lood geëet (uit Taalkunde vir die middelbare skool) word lood gebruik, waar dit deel is van ’n geweer, juis om die manier waarop die betrokke persoon gekwes is, aan te dui. ’n Bykomende voorbeeld hiervan is “Ek kort ’n ekstra paar hande waar hande gebruik word om te verwys na ’n mens wie se hulp benodig word. Die rede waarom hande gebruik word, en nie byvoorbeeld kop soos in een van ons vorige voorbeelde nie, is dat hande sterk geassosieer word met die deel van die mens wat fisieke aktiwiteite verrig.
Mag hierdie inligting menige mens help wanneer Elisabeth Eybers of dergelike behandel word. (Ek hoop julle identifiseer die gebruik van metonimie in die voorafgaande sin ...) In die volgende blog word antonomasia onder die loep geneem, omdat dit dikwels moeilik is om te onderskei van metonimie.
VivA-groete
Nadine Fouché-Karsten
Hierdie blog is met trots deur die AONetwerk geborg.
Betts, J. 2021. Examples of metonymy: Understanding its meaning and use. https://examples.yourdictionary.com/examples-of-metonymy.html Datum van toegang: 7 Julie 2023.
Kapp, S. 2019. 40 maniere waarop skrywers skop skep – retoriese middele. https://viva-afrikaans.org/lees-luister/blog/item/471-40-maniere-waarop-skrywers-skop-skep-retoriese-middele Datum van toegang: 7 Julie 2023.
Lakoff, G. & Johnson, M. 1980. Metaphors we live by. Chicago; London: University of Chicago Press.
LiteraryDevices Editors. 2013. Metonymy. https://literarydevices.net/metonymy/ Datum van toegang: 7 Julie 2023.
MasterClass. 2021. What Is Metonymy? Definition, examples, and uses of metonymy in writing. https://www.masterclass.com/articles/what-is-metonymy Datum van toegang: 6 Julie 2023.
Merriam-Webster. n.d. Usage notes on synecdoche and metonymy. When you're left to your own rhetorical devices. https://www.merriam-webster.com/words-at-play/synecdoche-metonymy-usage-differences Datum van toegang: 7 Julie 2023.
Nordquist, R. 2018. What Is Metonymy? thoughtco.com/metonymy-figures-of-speech-1691388. Datum van toegang: 6 Julie 2023.
Pilon, S. 2023, 17 Jan. Metonimie [Podsending]. https://omny.fm/shows/op-en-wakker/taalrubriek-17-januarie-2023?fbclid=IwAR20RaiZSlY3x_IBbu8qsmNHIaqRyAB-ADiRzR5SQXZdb-lQafz1UFiCOz0 Datum van toegang: 5 Julie 2023.
Yamasaki. P. 2023. Metonymy: How to use this literary device. https://www.grammarly.com/blog/metonymy/ Datum van toegang: 6 Julie 2023.
i In ander bronne word metonimie ook met die produksie van geskrewe tekste geassosieer, maar dit word nie noodwendig “stylfigure” genoem nie, wel retoriese middele, dit wil sê tegnieke wat die spreker of skrywer aanwend om die boodskap so doeltreffend moontlik aan die hoorder of leser oor te dra (vergelyk Kapp 2019
'My experience with SAOU was outstanding. After months of struggle, they assisted me in obtaining my SACE certificate. Additionally, their thoughtful gesture of wishing me a happy birthday was particularly heartwarming.'
Keshia Erasmus
''Ons het gesukkel met 'n vakkeuse van 'n matriekleerling aan die begin van die jaar, aangesien haar ma verlede jaar die toestemmingsbrief na verkeerde e-pos gestuur het. Die departement het net volstrek geweier om haar vak te verander, al het sy al vir amper 'n kwartaal in die veranderde vak gesit. Ons het SAOU genader om hulp en dit was nie eers 'n paar dae nie toe kry ons die toestemmingsbrief vanaf die departement, vergesel met 'n verskoning.''
Lizé van Aswegen
''Flink diens. Akkurate inligting.'' Garetha
''Onderwerpe is spesifiek uniek, baie leersaam en word deur kundiges keurig aangebied.''
Gretie Luyt
''Best service and easy to find information. ''
Kgothatso Madibana
''My ervaring met SAOU is uitstekend tot dusver. Ek het aanlyn geregistreer en is bykans onmiddelik n lid.''
Janeke Jordaan
''Professional advice given and FAQ are very helpful. Staff knowledgeable and website insightful.''
Gregory McCullum
''Daar is dadelik aan my raad gegee.
Dokumentasie was vinnig aangestuur.
Andre Pretorius was vriendelik, bekwaam en van groot hulp met my probleem.''
Susan Jansen
''Excellent rating - For conducting the ongoing professional development workshops on content and on the
latest developments in education.
Continue with the excellent work.''
Molale DC
''My ervaring met die SAOU was uitstekend omdat die webwerf verbruikers-vriendelik is en ek maklik kon aansluit by die unie. Ek is ook vinnig gehelp toe ek hoofkantoor gebêl het. ''
Jacomien Davidson
"Hiermee wil ek graag my dankbaarheid uitspreek vir die geleentheid wat ek ontvang het om saam met my gade die kongres te kon bywoon. Die ervaring was werklik spesiaal. Die absolute professionele voorbereiding ten opsigte van administrasie asook die persoonlike ingesteldheid teenoor die ontvangers van die toekennings was indrukwekkend. Baie dankie vir die erkenning van die werk wat opvoeders doen, dit skep nederige dankbaarheid vir die taak wat God aan my toevertrou het."
E Havenga
''The manner of questions are spot on and one can only hope responses will fast and reliable... New website is highly informative ''
ShamielITIO Mohamed
''Ek wil graag net persoonlik dankie se vir ''n wonderlike Saterdag. Dit was absoluut die moeite werd!
Julle verwelkoming, fantastiese sprekers, middagete, geskenkpakkie en nog 'n wegneem kospakkie was uit die boonste rakke. Dis n voorreg om lid van die SAOU te kan wees.
Dankie en sterkte vir dit waarvoor julle staan en die puik diens wat ons as lede ontvang.''
Sunet Sanders
''My ervaring met SAOU is uitstekend omdat - om dit sommer plein en reguit te sê - in al die jare wat ek SAOU opleidings bygewoon / (Zoom) was nie een ooit 'n mors van tyd nie. Dit is altyd baie insiggewend en interessant. Ek leer ongelooflik baie by die aanbiedings. Baie, baie dankie vir julle puik diens. Ek waardeer dit opreg. Somtyds is dit moeilik om alles ingepas te kry, om na die opleidings te luister maar ek probeer maar altyd 'n plan maak om dit by te woon. Gaan voort met die goeie werk! Baie dankie'' Mathilde van Niekerk
''My ervaring met die SAOU was uitstekend omdat my vrae altyd vlugtig en deeglik beantwoord word. Ek voel vry om enige kwessie met die SAOU te bespreek en ek voel veilig sowel as beskermd wanneer ek kontak maak. Ek voel dat die SAOU as 'n uitstekende ondersteuningsnetwerk vir my dien en ek is nie seker dat ek onderwys, en die politiek daaragter, sou kon hanteer sonder 'n unie met wie ek so vertroud voel nie. Baie dankie!''
Karla du Toit
I got the answers to my questions and there was additional information I could browse on for more information.
Proudy Dlamini
Baie dankie vir alles wat julle alles vir my gedoen het hierdie jaar gedoen het .. al die dinge wat gesorteer het..al die help.. al die ondersteuning... Julle is puik...
Geniet julle vakansie!
Anneke Oberholzer
All Rights Reserved