Meerder, beterder en mees beste – trappe van vergelyking in Afrikaans

Desperate navraag laat die aand: Tannie, ons skryf môre Afrikaans en ek sukkel met trappe van vergelyking. Hoe weet ek wanneer is dit "meerder" en wanneer is dit "meeste"?

Ek rol nie meer my oë nie, nie vir die navraag, die omvang van die onkunde of die tyd nie. Ek herken paniek, selfs op ʼn WhatsApp, en weet ʼn mens hou jou preek vir ʼn meer toepaslike oomblik.

Gelukkig (vir die navraer se onthalwe en vir myne) is die reëls vir die trappe van vergelyking in die nuutste uitgawe van die Afrikaanse woordelys en spelreëls opgeteken. Hoofstuk 16 bevat die volledige stel voorskrifte en vervang elke leer en dwaling wat tot nou toe oor die saak verkondig is. Boonop is daar voor in die hoofstuk ʼn baie nuttige tabel opgeneem wat dit vir elke opvoeder, leerder en gebruiker glashelder behoort te maak wanneer ʼn mens -er en -ste, en wanneer ʼn mens meer en die meeste gebruik.

So werk dit:
Bywoorde en byvoeglike naamwoorde kry -er en -ste. Dit sluit voorbeelde in soos die volgende:
• mooi, mooier, die mooiste
• groot, groter, die grootste
• algemeen, algemener, die algemeenste
• eenvoudig, eenvoudiger, die eenvoudigste
• bekoorlik, bekoorliker, die bekoorlikste
• korrek, korrekter, die korrekste
• interessant, interessanter, interessantste

Bywoorde en byvoeglike naamwoorde wat op e eindig, kry meer en mees. Wees versigtig, dis woorde wat in die onverboë vorm op ʼn e eindig. Dit sluit met ander woorde nie woorde in soos interessante, eenvoudige of geduldige in nie, want dié woorde het in die onverboë vorm nie ʼn e nie.
• beskonke, meer beskonke, mees beskonke
• ervare, meer ervare, mees ervare
• volwasse, meer volwasse, mees volwasse

Deelwoorde wat as bywoorde of byvoeglike naamwoorde optree, kry ¬-er¬ of ¬meer en -ste of ¬mees.
• oplettend, oplettender, oplettendste OF oplettend, meer oplettend, mees oplettende
• gekompliseerd, gekompliseerder, gekompliseerdste OF gekompliseerd, meer gekompliseer, mees gekompliseerde
• bekommerd, bekommerder bekommerdste OF bekommerd, meer bekommerd, mees bekommerde
• sprankelend, sprankelender, sprankelendste OF sprankelend, meer sprankelend, mees sprankelende

Dan is daar ʼn klas wat beter en beste neem. Dit is bywoorde en byvoeglike naamwoorde wat volgens gehalte gradeerbaar is.
• gekwalifiseer, beter gekwalifiseer, die beste gekwalifiseer
• toegerus, beter toegerus, die beste toegerus

En natuurlik, die onvoorspelbare klompie, wat hulle eie patroon volg:
• goed, beter, die beste
• gaaf, liewer, die gaafste
• baie, meer, die meeste

As jy met leerders of taalaanleerders werk, wys ook maar op die grootste fout: Ons gebruik nooit die -er en ¬-ste saam met meer en mees nie. Die meeste mense gaan nog die mees eenvoudige aanvaar al sê die AWS dis nie reg nie, maar oor die mees eenvoudigste gaan hulle kla. 
Ek hoop jy weet nou meerder. Mag jy hierna beterder weet hoe om trappe van vergelyking op die mees beste manier te skryf.
VivA-groete
Sophia

by SAOU 26 March 2025
NN 13/2025: The SAOU is considering the introduction of a funeral benefit for all SAOU members, WITHOUT increasing membership fees. The funding of the funeral benefit will have an impact on the annual corporate gifts...
by Regsdienste 25 March 2025
NN 12/2025 Verskeie navrae word tans vanaf skoolhoofde ontvang, rakende die nuwe bepaling met betrekking tot die indiening van ‘n skool se kwartaallikse finansiëleverslae wat binne 30 dae na die einde van die kwartaal, volgens Artikel 45(3) van die SASW soos gewysig ingedien moet word...
by SAOU 14 March 2025
NN 11/2025: We are delighted to announce the result of the election... Membership Fee Adjustment: Due to the late delivery of the national budget speech, the general salary adjustment will not be implemented on time at Persal, but...
More posts
Share by: